Friday, 26 September 2008

Crispin word 3!

Baie Geluk met jou Verjaardag Crispin!
Die Verjaardag-outjie word volgens gesinstradisie met sy Suprise-koek wakker gesing! Ons moes keer sing voor hy eers besluit het om wakker te word..Afrikaans, Engels en Arabiers...






.....mmm boeke is sy gunsteling!!





ons dut so bietjie voor die partytjie-diere kom..





dit het nogal oefening gekos om hierdie 3 vingertjies so te kan ophou!





...die partytjie-diere!!!!




...een, twee, drie ...BLAAS!!! Sonet wil ook saamblaas


almal verkeer "vreetsaam"...



..wat is 'n partytjie sonder ROOI roomys??? 'n partytjie sonder rooibekkies!



Baie Dankie Almal, dit was 'n baaaaaaaaaaaaaaaaie lekker dag!

Thursday, 11 September 2008

'n Dak oor jou kop.

Daar is so baie dinge waaroor 'n mens kan skryf in die groot en, op so baie plekke, mooi ou wêreld van ons. Maar ek het besluit dat ek net ietsie korts met julle wou deel oor die land waarin ons woon.

Daar is 'n spesifieke huis waaroor ons altyd vlieg wanneer ons opleiding doen hier in Al Ain. Die huis is net so buite die dorp en ek kan my altyd verkyk aan die plek. Want in 'n sekere sin het die huis 'n unieke bekoring aan hom. Iets wat ek nog nie vantevore gesien het aan 'n huis se ontwerp nie.


As ons dink aan 'n huis dan sien ons mos dadelik die prentjie van die voorkant van 'n huis met sy voordeur en 'n venstertjie. Baie keer dan skets ons sommer 'n paadjie wat so na die voordeur toe loop. Van ons kunstiges sal dan sommer 'n buite kraan byvoeg wat 'n druppel het wat nog aan die kraan se tuit hang. Dan sal ander weer 'n boom aan die kant van die huis bysit met heuwels aan die agterkant, ag en so kan ek aangaan om te vertel dat party gras polle sal teken....maar julle kry die idee? Ietsie sommer plain en simple. Niks fancy nie. Soos hierdie prentjie.

Maar dit lyk my vir ander is 'n gewone huis nie genoeg nie en hulle soek iets unieks. En daarom wou ek met julle hierdie huis deel. Nie net is hy uniek nie maar hy staan alleen so op 'n effense hoogtetjie gebou, in die woestyn. Ek sou graag wou sien hoe lyk so plek binne, en kan maar net myself indink, as die ontwerp so uniek is? Hoeveel male het ek nie gesmag na die lekker blou van die swembad as ons so in die hitte gevlieg het nie, want ons helikopter het mos nie Aircon nie. Die foto se kwaliteit is maar selfoon kamera kwaliteit, maar ek dink julle sal die uitleg verstaan.



Die huis is in drie dele gebou en ek neem aan almal kom maar in die middel byeen. Die swembad loop regonderdeur die een vleuel. Aan die regterkant van die foto is daar 'n dam met 'n buitehuisie/ Lapa in die middel van die dam. Voor die gras geplant was het dit dor gelyk, maar nou is dit mooi. Ek dink as die tuin eers gevestig is gaan dit 'n lushof wees. Mense en hulle idees...dit net vir 'n dak oor hulle koppe?

Sunday, 07 September 2008

Veels geluk met jou verjaardag Annika

Baie geluk met jou verjaardag Sonstraaltjie.
Mag jy 'n baie lekker New Zealand verjaardag hê!

Tuesday, 02 September 2008

Sjoe.....dis warm!!

Hoeveel mense kan sê hulle het al "extreme" hitte ervaar? Ek praat nou nie van 'n braai vleis vuur wat nog te warm is wanneer 'n mens begin braai en die vlamme so aan jou vingers en hand lek omdat jou braai tang te kort is nie. Ook praat ek nie van 'n bad se water wat deur jou vrou getap is en jy sommer aanneem dat sy koue water bygevoeg het en jy jou voet sommer so goeds moeds indruk net om met 'n krag woord en 'n skok te besef dat die water kokend is nie, dan laat sy liefies van die kamer se kant af hoor dat sy nog nie koue water getap het nie. Ook maar partykeer goed daar is kinders in die huis en jy byt maar die ou tong!



Die hitte wat ek van praat is die lig in die hemel wat elke dag oor ons lewens hier op aarde skyn. 'n Lig wat 149 600 000 kilometer ver is van die aarde. Ek praat van die son.

Nou wonder julle seker hoekom ek praat van "extreme" hitte? Toe ek en my gesin in 2003 in die UAE aan gekom het was dit so April maand se kant. Die betrokke dag was die temperatuur 46 grade celsius gewees. Toe het almal te vertelle "wag, julle het nog niks gesien nie. Die ergste kom nog."

En het die ergste toe gekom.....verseker, my mond het oop gehang, net soos 'n voël wat warm kry en net soos 'n hond wat sy tong laat uithang. Die mense het waarheid gepraat, die ergste het gekom. Die warmste in 2003 wat ek ervaar het was 51 grade celsius. Ons almal, Pa, Ma en die kroos bly soveel as moontlik binne want dis mos lekker koel met die lug versorging. Mens raak die hitte nooit gewoond nie jy, soos hulle sê "tolerate" ons dit maar net. Ek kry die vroue jammer wat in hulle menopouse is en dink aan my arme skoonma wat die eerste besoek hier was om te sien in watter land ons, ons nou bevind. Onthou die prentjie vroeër van die voël en die hond met die tong? Ja net so.

Maar niks in die 5 jaar wat ons nou al hier is kom naby die temperatuur wat ek in Abu Dhabi waar geneem het nie. Ek moes na ons hoofkantoor toe gaan vir 'n vergadering. Na die vergadering besluit ek om sommer pos te gaan uithaal. Ons het met die trek na Al Ain toe wat 135km van Abu Dhabi is nog nie ons pos adres verander nie. Dit gee ons rede om Abu Dhabi toe te ry en sommer vir almal hello te sê in die verby gaan. Oppad Abu Dhabi toe het ek al gemerk dat die temperatuur maar redelik hoog is,

Hier het ek sommer fotos geneem met my selfoon se kamera


Aan gekom by die poskantoor toe merk ek 'n klong lê en slaap op die naat van sy rug. Hy lê net so links van die groen net. Let op na die termometer bo die spieël. Ek hoop hy het geslaap en was nie dalk gedehidreerd nie. Ek haal my hoed af vir die werkers in die land wat in die hitte moet swoeg. Dan is hulle salarisse so karig ook nog.


Toe ek in die kar klim toe het die temp so bietjie op geskuif.

En dit word net warmer....

Laat mens dink aan die liedjie:" 1...2,3, Dis mos warm is dit nie?"

Ek maak sommer maar my eie woorde.

Ek het 'n dokument gehad wat ek by Sandra moes afgee en oppad na haar huis toe, toe dag ek die Satan self het besluit hy kook vandag en die oond moet warmer gestel word!

Want soos ek deur die stad ry word dit net warmer en warmer. Ek het naderhand gedink daar moet seker fout wees met die termometer.


Maar toe ek aan die windskerm vat toe weet ek, dis nie 'n fout nie. Ek voel selfs die lug versorger in die kar sukkel om by te bly om koud te hou. Ek stel die waaier op sy vinnigste en die wind is in my rigting gestel dat my kuif so waai.

Net voor ek by Sandra se huis aan kom toe slaan die termometer oor na 58 grade celsius en ek dink by myself, liewe land dit kan nie wees nie. Maar dit was....


Met my aankoms by Sandra se huis toe maak Eddie, Sandra se man die deur oop en hy sê hemels woorde. " My magtie, kom in uit dìe hitte!!!" Hulle huis was lekker koel gewees en ek het so rukkie daar vertoef. Oppad huis toe net van die eiland van Abu Dhabi, seker so 15km ver het die temperatuur geleidelik begin sak en toe ek 60 km van Abu Dhabi af was het die temperatuur gaan sit op 49 grade. Die lugversorger het weer behoorlik gewerk en dit was weer koel in die kar.

Ek kan nou ook sê dat ek tel onder die ander mense van die land wat al "extreme" hitte ervaar het. Hoe groot en wonderlik moet ons skepper nie wees dat hy een van sy liggies so ver van die aarde kon plaas om ons warm te hou nie. En as daai liggie net 'n bietjie nader was het ons seer sekerlik nie bestaan nie. Iets om oor te dink nê?