Toe ons wil ry by die huis toe vind ons vir Nala ons kat in die kar. Lekker uitgestrek en slaap. Die katte kry koud nou met die winter. Ek praat met een van my kollegas by die werk 'n Amerikaner. Hy is al in die UAE van 1981 af en hy vertel my dat hierdie 'n baie koue winter is. Die koudste wat hy nog gekry het hier. Hy sê dat dit in 1986 ook koud was maar nie soos nou nie. Nou die oggend toe daal die kwik na 3 grade celsius.
Met ons aankoms in die woestyn is daar alreeds baie karre en Quad bikes wat op en afjaag. Ons sê net die heeltyd vir die kinders om nie te ver af te dwaal van die kar af nie. Hulle jaag soos mal goed en sal sommer oor die kinders ry. Die "show" het toe ook al begin en die vliegtuie dreun oor ons koppe met die akrobatiese toertjies wat hulle uithaal.

Die mense se formasie vliegkuns is baie goed. Dit vat seker baie oefen en tyd om so te vlieg.
Later toe raak die windjie nogal koel en ons pluk die duvet uit die kar uit. Toe voel dit darem maar baie beter hoor. Heel cozy. Crispin is al so gewoond om altyd tussen ons te wees dat hy nie laat wag het op hom om weer in te squeeze nie.
Terwyl ons daar sit toe kom daar hierdie mense verby. Toe ons mooi kyk sien ons die vlaggie is eg Suid Afrikaans!! Ek moes net 'n foto neem. Ons neem ook oral oor in die wêreld lyk dit my.
